Eugene Marais

9 January 1871 – 29 March 1936 / Pretoria

Skoppensboer

'n Druppel gal is in die soetste wyn;
'n traan is op elk' vrolik' snaar,
in elke lag 'n sug van pyn,
in elke roos 'n dowwe blaar.
Die een wat deur die nag
ons pret beloer
en laaste lag,
is Skoppensboer.

II

Gewis en seker is die woord:
die skatte wat ons opvergaar,
ondanks die sterkste slot en koord
word net vir mot en roes bewaar.
Net pagters ons
van stof en dons
om oor te voer
aan Skoppensboer.

III

Die heerlikheid van vlees en bloed;
die hare wat die sonlig vang
en weergee in 'n goue gloed;
die dagbreek op elk' sagte wang
en oë vol van sterreprag
is weerloos teen sy groter mag.
Alreeds begint die rimpel sny;
oor alles hou die wurm wag
en stof en as is al wat bly:
Want swart en droef,
die hoogste troef
oor ál wat roer,
is Skoppensboer.

IV L'ENVOI

Gewis is alles net 'n grap!
Ons speel in die komedie mee
geblinddoek met 'n lanferlap
wat selfs die son 'n skadu gee.
Wat treur ons tog?
Viool en fluit maak nog geluid,
en lank die nag wat voorlê nog.
Al kan ons nooit volmaaktheid raak,
nog blink die oog en gloei die huid
wat heel die winter blomtyd maak.
Dus onverlee
lag ons maar mee
met elke toer
van Skoppensboer!
581 Total read